Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS - SONDAG – 10 AUGUSTUS 2008

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word.

Oudio is ook beskikbaar via die web www.sarl.org.za; klik op ARMI en volg die koppelings soos aangedui. Vir oudio via Echolink koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie - en vorige bulletins - kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser vanoggend is (Naam en Roepsein), vanuit Pretoria met herleidings op 28,325, 14,235, 10,130, 7,066 en 3,695 MHz ESB asook, 51,400, 438,825 en 1 297 MHz FM in die Pretoria-gebied. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

STIL SLEUTEL

Dit is met leedwese dat SARL-nuus moet bekend maak dat die sleutel van Brian Weller, ZS2AB, op 6 Augustus stil geraak het. Hy was vir baie jare voorsitter van die Port Elizabethklub. Ons innige meegevoel aan sy eggenote Marge, ZS2OB, ander familie en vriende.

(POUSE)

In die nuus vandag:

FANTASTIESE PRYSE TE WEN BY DIE RTA OP 13 SEPTEMBER

WANNEER SAL ‘N BUITE-AARDSE SEIN ONTVANG WORD?

KLT-STANDAARDE TYDENS DIE SABS TC73 VERGADERING BESPREEK TE WORD

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

FANTASTIESE PRYSE TE WEN BY DIE RTA OP 13 SEPTEMBER

Die SARL se Radiotegnologie-in-Aksie-simposium wat op 13 September by die Nasionale Amateurradiosentrum gehou gaan word, beloof om ‘n hoogtepunt van die jaar te wees met ‘n aksiebelaaide program en fantastiese bywoningspryse.

Multisource en ICOM skenk ‘n ICOM IC-706 Merk 2 G alle modus sendontvanger wat ook 6 en 2 m sowel as 70 cm dek. Een gelukkige deelnemer sal met hierdie moderne sendontvanger huistoe gaan.

RS Components borg ‘n RS-soldeerstasie met digitale vertoon en programmeerbare teperatuurinstellings.

Comtest borg ‘n Meterman 38XR Ware RMS digitale multimeter met ‘n optiese koppelvlak na ‘n persoonlike rekenaar.

Behalwe hierdie voorafgenoemde is daar ook nog ander pryse te wen. Gaan kyk na die program, pryse wat gewen kan word op www.sarl.org.za. Teken die datum en tyd, 13 September, 08:30 16:00, nou aan. Die toegangsfooi is slegs R20. Studente en leerders geniet vry toegang.

BACAR VERTRAAG WEENS GEEN BALONNE BESKIKBAAR

Terwyl alles in gereedheid is vir die beplande BACAR-vlug moes dit uitgestel word weens ‘nn probleem met die voorsiening van balonne. Balonne is maande gelede bestel maar dit blyk dat hulle iewers in die pakketposstelsel verdwyn het. ‘n Alternatiewe bron word nagegaan en ‘n nuwe datum sal aangekondig word, hierdie keer eers nadat die balonne veilig in die land is. “Dit is baie teleurstellend dat die vlug weereens uitgestel moet word en dit is baie frustrerend vir die BACAR-span wat al die toerusting in gereedheid het vir de vlug” het SA AMSAT se President, Hans van de Groenendaal, ZS6AKV, aan SARL-NUUS meegedeel.

BACAR is die akroniem vir “Balloon Carrying Amateur Radio”. Die toerusting wat gereed is om te vlieg is ‘n HF-baken op 7 022 kHz, ‘n 2 m-baken en ‘n APRS-stelsel. Besoek www.amsatsa.org vir meer inligting.

WANNEER SAL ‘N BUITE-AARDSE SEIN ONTVANG WORD?

Sluit volgende Sondag 17 Augustus om 19:30 by INTEGNET aan wanneer Paul Shuch, President van die SETI-liga die soeke na buite-aardse intelligensie sal bespreek. Slegs die afgelope week het Radio 702 ‘n bespreking oor OVV’s gehad.

Die soeke na buite-aardse intelligensie is ‘n wetenskaplik gebaseerde aktiwiteit waaraan jy kan deelneem deur jou antennas na die ruimte te rig en te soek vir daardie ontwykende sein wat ‘n lang tyd gelede deur intelligensie uitgestuur is.

Paul Shuch is ‘n interessante spreker en beloof ‘n interessante Sondagaand aan deelnemers.

Klubs wat aan die net wil deelneem moet teen 13 Augustus ‘n e-pos stuur aan armi@sarl.org.za en besonderhede verskaf aangaande hulle herhaler en die telefoonnommer waardeur gekoppel sal word.

RIG OP 8 OKTOBER ‘N AMATEURRADIOSTASIE BY ‘N SKOOL OP

As deel van Wêreldruimteweek, rig ‘n amateurradiostasie by jou naaste skool op en deel die mistiek van amateurradio met leerders. Die gebeurtenis sal op Woensdag 8 Oktober vanaf 10:00 tot 12:00 UTC plaasvind. Leerders sal die geleentheid gebied word om meer aangaande die ruimte te leer en sal na ‘n ruimtebaarder kan luister en met hom kan praat en sy ruimteondervindings met hom deel.

‘n Aantal lokale herhalers sal gekoppel word en ‘n aantal HF-stasies sal in bedryf wees. Indien jou lokale herhaler gekoppel is, sal net ‘n eenvoudige 2 m-stasie voldoende wees. Praat met die skoolhoof van die skool naaste aan jou, en verkry sy/haar betrokkendheid. Verskeie dokumente is beskikbaar by www.sarl.org.za, klik op activity en kies youth vir volledige besonderhede.

Deel jou stokperdjie met die nuwe generasie van radioamateurs!

SARL SE LIDMAATSKAPHERNUWINGS OORSKRY 1 000

Verlede Vrydagoggend het die lidmaatskaphernuwings van die SARL tot oor die duisend gestyg. Tans het 1 012 lede lidmaatskap vir 2008/2009 hernu. Baie dankie aan almal wat stiptelik betaal het. Daar is nog het drie weke oor om voordeel te trek uit die laer tarief van R305.

Alle hernubare of nuwe subskripsies wat voor 31 Augustus 2008 ontvang word, is onderhewig aan ‘n korting. Jy betaal slegs R305 en nie die nuwe tarief van R320 wat vanaf 1 September van toepassing sal wees nie. Senior lede betaal slege R184 indien betaling voor 31 Augustus geskied. Na daardie datum styg dit na R200. Kontak Vee Antal by 011 675 2393 vir betalingsbesonderhede. Alle volopbetaalde lede sal ‘n lidmaatskapsertifikaat vir 2008/2009 ontvang. Indien u nognie ‘n lid is nie, sluit nou by die SARL aan en versterk die krag van jou stem by die owerheid.

KLT-STANDAARDE TYDENS DIE SABS TC73 VERGADERING BESPREEK TE WORD

KLT-standaarde sal komende Woensdag tydens die vergadering van die SABS se TC73-komitee, Elektromagnetiese Versoenbaarheid, onder die loep geneem word wanneer die voorgestelde CISPR 22-standaarde bespreek word.

Daar was ‘n vlaag van internasionale aktiwiteit om CISPR te oortuig om, wanneer dit later hierdie jaar vergader, nie verlaagde standaarde te aanvaar nie. Die IARU het nasionale verenigings versoek om hulle lokale CISPR-verteenwoordiger te be-invloed om die IARU se oproep te ondersteun wat daarop gemik is om die HF-frekwensiespektrum te beskerm deur standaarde te stel wat die spektrum bevredigend sal beskerm. Die SARL het dokumentasie by die Suid-Afrikaanse verteenwoordiger van CISPR ingedien en sal ook komende Woensdag by die vergadering van TC73 verteenwoordig word.

CISPR is die Spesiale Internasionale Komitee op Radiosteurings van die Internasionale Elektrotegniese Kommissie, IEC, met sy sentrale kantoor in Geneve, Switserland. Dit is gemoeid met die ontwikkeling van standaarde aangaande elektromagnetiese steurings en meeste van hierdie standaarde word aanvaar deur die Europese Unie en baie ander lande. Steuringsperke vir kraglynkommunikasie- (KLT)-stelsels word in die standaard CISPR 22, en sy Europese ekwivalent EN 55 022, getiteld "Information technology equipment - Radio disturbance characteristics - Limits and methods of measurement", gedefineer.

Die SABS het verlede week ook ‘n dokument getiteld “IEC/CISPR Threatens Radio Services by a Planned 18 dB Relaxation of PLT Disturbance Limits" geskryf deur Karl Fischer, DJ5IL, versprei. ‘n Kopie is beskikbaar by www.sarl.org.za, klik op general info en kies PLC/BPL.

SCI BONO AMATEURRADIOFONDS

Sci Bono WetenskapOntdekkingSentrum is besig om 'n volledige radiotoring met antennas en roteerder te installeer. Donasies word gevra, en om radioamateurs aan te moedig, word n' X18-strokie uitgegee wat die donateur kwalifiseer vir 'n belastingkorting.

Vir meer inligting besoek www.zs6cog.co.za en laai die inligting af. Alternatiewelik kan Chris Gryffenberg, ZS6COG, met e-posadres zs6cog@gmail.com. gekontak word.

KLUBNUUS

71ste AJV VAN DIE OOS-RAND RADIOKLUB

Die Oos-Rand Radioklub (Voorheen die Oos-Rand Tak van die SARL), ZS6ERB, gee, in ooreenstemming met die klubkonstitusie kennis dat hulle 71ste AJV op 30 Augustus 2008 gehou sal word.

Die AJV begin om 14:00 by die klubhuis in Springs. Die AJV word gevolg deur 'n toekeningseremonie en sosiale byeenkoms in die vorm van 'n bring en braai.

Alle radioamateurs word uitgenooi.

HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak die komende week baie laag gaan wees. Die geomagnetiese veld sal oor die algemeen aktief wees tot 13 Augustus waarna stil toestande tot 17 Augustus verwag word. Die voorspelde effektiewe sonvlektelling sal gedurende die komende week minder as 5 wees. Die verwagte DX-toestande is goed vir die Noordelike rigtings maar vrotterig vir die hoofsaaklik Noord-Westelike paaie.

20 m is die beste keuse vir DX met moontlike flou 20 m-openinge vanaf 16:00 SAT na Indië. Daar is moontlike flou 40 en 80 m openinge na Nieu-Zeeland om 18:00. Andersins gaan kontakte met Australië en Nieu-Zeeland baie uitdagend wees. Vanaf ongeveer 16:00 is daar moontlike 20 m-openinge na Europa. Kontakte met die VSA gaan baie uitdagend wees.

10 MHz lyk laatmiddag en na sononder bruikbaar vir die Morsekode- en digitale entoesiaste.

Plaaslike toestande gaan gedurende die dag op 40 m goed wees, veral vir vanmiddag se wedstryd. 80 m behoort gedurende die oggende en laat middag goeie resultate oor die korter afstande te lewer. 30 m sal gedurende die middel van die dag goeie resultate tussen ZS6 en ZS1 lewer.

Saans is 80 m die beste keuse,veral nou dat die meeste donderstorms en statiese steurings agter die rug is. 160 m gaan ook baie bruikbaar wees.

Onthou dat hierdie net 'n voorspelling is en dat HF jou steeds kan verras. Skakel jou stel aan,luister en roep ook CQ om seker te maak dat jy deel van die opwinding is.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.


DAGBOEK VAN GEBEURE

10 Augustus - SARL 40 Meter Mobiele en "Shack in a Sack" Kompetisie;
17 Augustus – INTEGNET;
30 Augustus – AJV van die Oos-Rand Radioklub;
31 Augustus – Laaste dag vir betaling van ledegelde teen korting;
13 September – RTA Gauteng by NAR;
3 Oktober – JD-toer van SA begin.

SARL nuus nooi klubs en individue uit om nuusberigte wat vir radio-amateurs en kortgolfluisteraars van belang is, in te stuur. Indien moontlik, plaas nuusberigte in beide Afrikaans en Engels op www.sarl.org.za/newsinbox.asp nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateur Radio Mirror International, wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoriagebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 590 kHz. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur George, ZS6NE, saamgestel is.

'n Voorspoedige week word aan almal toegewens, 73.


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003